Vergewe en Vergeet
Ek het so pas die Boekbonus in Die Huisgenoot van 17 Junie 2010 klaar gelees.
Dit het my byna 3 ure geneem om die 3 of 4 bladsytjies te lees.
Want ek kon myself nie forseer om aan te gaan nie. Ek het bly vashak. Die storie was nie vir my net ‘n eenvoudige storie nie.
Die uittreksel was uit die boek ” ‘n Hemelhoë Hekkie” deur Douwleen Bredenhann.
Verskeie dinge het my aandag getref. Die dogtertjie was 9 jaartjies oud toe dit met haar gebeur het en my laatlammetjie word nou 8 – die weerlig slaan bitter naby. Dan is die datum (1988) die jaar waarin my seun gebore is – ook vir my ‘n besondere jaar. En die verlies van ‘n kind, wel, ek hoef seker niks meer te sê nie.
My dogtertjie sou hierdie jaar 20 geword het. Ek loop nou nog in die straat af en wonder hoe sy nou sou gelyk het. Mens vergeet nooit nie. Dis asof daardie gedeelte van ‘n mens se lewe tot stilstand gekom het en net so gevries het. En vergewe? Dis nie maklik nie. Ek bewonder Douwleen se dapperheid om haar hart oop te maak en haar pyn te deel. Dit help soms. En die Pappa? Daar word so min van hom gesê. Ek kan myself nie indink hoe hy moes gevoel het nie. Ek onthou vandag nog – 20 jaar later – met kristalhelder beelde die begrafnis, die wit kissie, die laaste woorde.
Maar tyd is ‘n wonderlike geneesheer en mens word naderhand gewoond aan die kruis wat mens dra. Dis nooit makliker nie, maar mens begin aanvaar. Somtyds is mens ongemaklik as mense vra hoeveel kinders jy het. Sê jy 3 dan maak jy jouself oop vir die onvermydelike klikkie van die tong. En sê jy 2 dan voel jy asof jy haar verraai en vergeet.
Al wat ek kan sê is Dank die Heer dat my laatlammetjie nog gesond is. Hy weet hoe lief ek vir haar is.
P.S. For my English speaking friends, the book under review is available in English as Living Without Liesl from Tafelberg and it tells the true story of how Douwleen and her family began the long, slow process of learning to live with tragedy after they found their 9 year old daughter murdered in their garden. Forgive and Forget.
July 1st, 2010 at 9:33 pm
Leon ek het toevallig vandag hierop afgekom terwyl ek na ‘n ander skakel oor “‘n Hemelhoë Hekkie” gesoek het.
Dankie dat jy jou gevoelens oor die Huisgenoot boek-uittreksel met jou vriende deel.
Wie weet, dalk het jy eendag genoeg moed om die hele boek te lees.
Sterkte met jou eie verlange na en wonder oor wat kon wees met jou eie (oudste) dogtertjie.
Groete
Douwleen
July 1st, 2010 at 11:01 pm
Ek is nou halfpad met die boek, en soos ek vir die skryfster gesê het, lees ek dit met tussenposes…staan ek steeds stom…elkeen van ons het ons hartseer maar dit waardeur hulle is, sal ek my nooit kan indink nie.Mag hierdie boek wyd gelees word.Dankie vir jou mooi skrywe.
July 5th, 2010 at 3:25 pm
My boek se blaaie sit aanmekaar vas….van die trane! Douwleen jy weet hoe om emosies wat onbeskryflik is in woorde om te sit. Hierdie boek is van groot waarde vir enigiemand wat soortgelyke ervaring gehad het.
Lees hom maar so stuk stuk as hy te veel word, maar lees hom! Ek sal die blaaie weer loswoel vir die tweede lees. Ten minste weet ek nou dat daar nog baie ander mese is wat dieselfde emosies ervaar. Ek is op ‘n pad van heling….die pad is net lewenslank!
July 16th, 2011 at 10:37 pm
Hi Douwleen, Ek lees tans jou boek en
Dit is soms huilend en staar ek met groot
Verbassing na alles, en nuwe waarder-
Na my 3jarige dogtertjie.
Maar daar is iets wat my baie pla, omdat
Al die mense in jou boek hulle
Eie name dra waarom het jy nie
“Piet Strydom” se regte naam gebruik nie?
Ek het al orals gaan google vir wie
Die naam van Liesl se moordenaar was,
Maar kan niks vind, wie was hy regtig?